Resep: Oop bessiepastei

Foto: Donna Lewis


Dis my weergawe van ’n krummelpoeding met ’n bietjie meer styl. Sit voor met warm vla en, as jy wil uithang, vanieljeroomys.

Genoeg vir 6 persone

1 x 400 g-rol blaardeeg, ontdooi
6 perskes, ontpit en in kwarte gesny
400 g gemengde bessies van jou keuse
210 g (250 ml) strooisuiker
10 ml vanieljegeursel
60 ml heuning
1 eier, liggies geklits
500 ml goeiegehalte-vanieljevla

Verhit die oond tot 200 °C. Spuit ’n 25 cm-tertbak goed met kleefwerende kossproei. Voer die bak met blaardeeg uit en sny deeg wat oorhang netjies af. Hou eenkant in jou yskas. Meng die perskekwarte, bessies, suiker, vanielje en heuning in ’n groot mengbak. Gooi die vrugte in die uitgevoerde bak en maak gelyk. Sny sirkels van sowat 2 cm in deursnee uit die deeg wat jy afgesny het. Pak die sirkels reg rondom die rand van die pastei en druk stewig vas. Verf met geklitste eier. Bak 25–30 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor met vla.

WENK: Laat blaardeeg altyd oornag in jou yskas ontdooi. Dit is gelaai met botter en as jy die deeg te warm maak, smelt die botter en die deeg word pap. Werk vinnig en hou altyd enige orige deeg in jou yskas.
109