Beetslaai uit Marokko

Foto: Michael le Grange


Daar is net iets aan die pienk beetsap wat oor jou bord loop soos jy saam met jou geliefdes om die Kerstafel kuier...

Genoeg vir 6-8 persone

8 middelslag bete
45 ml olyfolie
7 ml heel komynsaad
1 rooi ui, baie dun gesny
1 ingemaakte suurlemoen, baie fyn gekap
’n hand vol dille, baie fyn gekap
sout en varsgemaalde swartpeper
150 ml ongegeurde jogurt
15 ml tahini (sesampasta)
vars kruie vir garnering

Skil beet en plaas in middelslag-pot. Vul met koue water en bring tot kookpunt. Kook 15–20 minute of tot beet sag maar nie pap is nie. Haal uit water en laat afkoel. Sny beet in kwarte en plaas in mengbak. Verhit olyfolie in braaipan tot warm en voeg komynsaad by. Braai 30 sekondes. Gooi warm olie oor gesnyde beet en voeg uie, suurlemoen en dille by. Geur baie goed met sout en peper en meng deur. Bedek bak met kleefplastiek en laat in yskas staan vir 6–8 uur, verkieslik oornag. Meng jogurt en tahini saam. Plaas gemarineerde beet op opdienbord. Skep tahini-jogurt oor en garneer met vars kruie soos kruisement en dille. Sit voor.