Foto: Donna Lewis
Daar’s geen Afrikaanse woord om dié een te beskryf nie! Dit is die eerste tert wat ek ooit self gemaak het en is so maklik dat enige mens wat nie kan kook nie, dit sal kan maak. Alles kom uit blikkies en pakkies – die grootste werk is die room wat jy moet styf klits.
Genoeg vir 6 persone
1 x 200 g-pakkie tenniskoekies, fyngemaak
115 g (125 ml) botter, gesmelt
5 ml vanieljegeursel
1 x 360 g-blik karamelkondensmelk
6 piesangs, in skywe gesny
100 g donker sjokolade, gerasper
1 x 250 ml-houer room
50 g (60 ml) strooisuiker
Meng die koekies, botter en vanielje tot die tekstuur van klam seesand. Voer ’n 30 cm-tertbak daarmee uit. Druk stewig vas en plaas vir 5 minute in die vrieskas om te stol. Klits die karamel tot ’n sagte, gladde mengsel. Skep in die voorbereide kors en smeer gelyk met die agterkant van ’n lepel. Pak die piesangs bo-op en strooi die helfte van die sjokolade oor. Klits die room tot sagte punte begin vorm en gooi die strooisuiker by. Hou aan klits tot die stywepuntstadium bereik word. Skep die room bo-op die tert en strooi die res van die sjokolade oor. Sit voor.
WENK: My ma het meestal haar eie karamelkondensmelk gekook. Maak só: Plaas ’n toe blikkie kondensmelk in ’n pot en bedek dit met koue water. Bring tot kookpunt en laat 3 uur lank kook. Dis belangrik om tussendeur ekstra water by te gooi, want die blikkie moet heeltyd onder water wees. Laat binne-in die water afkoel.