Banana split

Foto: Donna Lewis


Die beste ding waarvoor ek ooit kon vra in my grootworddae op Upington was ’n banana split een maal ’n maand by die kafee in die dorp. Hier is my opgeterte weergawe, reg met vlerke wat die 21ste eeu kan binnevlieg.

Genoeg vir 6 persone

20 g (20 ml) botter
105 g (125 ml) strooisuiker
10 ml vanieljegeursel
6 piesangs, oorlangs in die helfte gesny
1 liter roomys van jou keuse
1 x 100 g-pakkie haselneute, grofgekap
175 g vars frambose
1 x 250 ml-houer room, styfgeklop

Verhit die botter in ’n groot kleefvrye pan tot goed warm. Voeg die suiker en vanielje by. Kook tot ’n ligte karamel vorm. Plaas die piesangs met die gesnyde kant na onder in die karamel en braai 1 minuut. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Plaas 2 piesangsnye per porsie in mooi bakkies en skep twee balle roomys bo-op. Verdeel die neute en bessies tussen die porsies. Rond af met ’n lepel of twee geklopte room. Sit dadelik voor.

WENK: Piesangs word gou bruin ná jy dit geskil en gesny het, daarom braai ek dit in warm karamel. Die hitte maak die piesangs “gaar” en voorkom verbruining. As jy gaste vir ete nooi, kan jy dit reeds so ’n uur of twee voor die kuier doen.