Foto: Michael le Grange
Die sous is die ster van dié resep. Ek bedien die aspersies koud, maar jy kan dit ook warm voorsit.
Genoeg vir 6-8
3 rooi soetrissies
45 ml olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 410 g-blik kersietamaties
30 ml vinkelsaad
’n knippie saffraan
60 ml sjerrie-asyn
sout en varsgemaalde swartpeper
’n hand vol vars koljanderblare, gekap
1 brandrissie, fyngekap
2 x 400 g-bosse aspersies
parmesaankaas, vir voorsit
Verhit oond se rooster-element. Smeer soetrissies met olie en plaas op bakplaat in oond. Rooster 5–8 minute of tot skil van soetrissies swart is. Plaas in bak en bedek met kleefplastiek. Laat afkoel. Krap swart skil van soetrissies af en verwyder pitte. Kap vlees fyn en plaas saam met ui, knoffel, tamaties, vinkel, saffraan en sjerrie-asyn in middelslag-pot. Bring tot kookpunt en laat prut 5 minute. Geur met sout en peper. Verwyder van hitte en voeg koljanderblare en brandrissie by. Verpulp met staafmenger tot glad. Bring pot met water tot kookpunt en dompel aspersies vir 1–2 minute in water. Dreineer en laat afkoel. Pak aspersies op opdienbord, skep soetrissiesous oor en rasper parmesaankaas oor. Sit voor.