Aspersies met hollandaise en okkerneute

Foto: Donna Lewis


Ek gebruik die helfte botter en die helfte kanola-olie – vir die lekker smaak van botter en die goeie hoedanighede van kanola. Daar is geen manier dat ek ooit sonder botter sal kan kook nie!

Genoeg vir 6 persone

200 g (220 ml) botter, gesmelt
100 ml kanola-olie
4 eiergele
30 ml korrelmosterd
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 100 g-pakkie okkerneute, grofgekap
1 x 70 g-pak wilderoketblare
400 g aspersies, vir 1 minuut in kookwater gedompel

Plaas die botter saam met die olie in ’n middelslagpot en laat smelt – die mengsel moet warm wees, maar nie kook nie. Plaas die eiergele, mosterd en suurlemoensap en -skil in ’n versapper en pols teen hoë spoed. Gooi die warm bottermengsel in ’n dun straaltjie stadig by om ’n lekker
dik hollandaise te verkry. Geur goed met sout en peper. Proe of dit nog suurlemoen nodig het. Rooster die okkerneute in ’n droë, warm braaipan tot goudbruin. Plaas die roket op ’n opdienbord en pak die aspersies bo-op. Skep lepels vol van die hollandaise oor en strooi die okkerneute oor. Sit voor.

WENK: As jy nie ’n versapper het nie, kan jy ’n elektriese handklitser gebruik. Vra iemand om jou te help en die bottermengsel stadig by te gooi terwyl jy klits. As die mengsel sou skif, plaas twee nuwe eiergele in ’n skoon bak en gooi die geskifte mengsel stadig by terwyl jy klits.