Gebraaide aspersies met bottersous

Foto: Donna Lewis


Aspersies en bottersous is een van die beste kombinasies wat daar is. Dis ryk en baie lekker. Sit dit voor vir ontbyt, voorgereg of bykos. Die bros krummellaag gee aan die aspersies ektra smaak en tekstuur. As jy regtig luuks wil wees, kan jy selfs fyn parmesaankaas by die krummelmengsel voeg.

Genoeg vir 6

100 g fyn broodkrummels
2 takkies tiemie, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
16 vars aspersies
2 eiers, geklits
olie vir diepbraai

Bottersous
3 eiergele
sap en skil van 2 suurlemoene
500 g botter, gesmelt

Meng die broodkrummels en tiemie. Geur dit met sout en peper. Doop die aspersies in die geklitste eiers en rol dit dan in die broodkrummels tot heeltemal bedek. Verwarm die olie en diepbraai die aspersies 5–8 minute daarin tot goudbruin en bros. Hou in die louoond warm terwyl jy die sous maak. Plaas die eiergele en suurlemoensap en -skil in ’n voedselverwerker. Geur dit met sout en peper. Skakel die menger aan en gooi die warm botter geleidelik by terwyl dit loop. Hou aan klits tot ’n dik, romerige sous gevorm het. Proe en geur met nog suurlemoensap of sout indien nodig. Pak die warm aspersies op ’n opdienbord en gooi die warm bottersous daaroor. Sit voor.