Appelkoostert

Foto: Donna Lewis


Ons het in die agtertuin van my grootwordhuis seker die grootste appelkoosboom op aarde gehad. Dit was my geheime plek waar ek my van die wêreld kon onttrek en van nuwe goed kon droom. Dié tert is ’n huldeblyk aan ons boom.

Genoeg vir 6

50 g (60 ml) strooisuiker
1 x 250 g-houer mascarpone
10 ml vanieljegeursel
1 x 400 g-blaardeeg, ontdooi
10 appelkose, gehalveer en ontpit
1 liter vanieljeroomys vir voorsit

Verhit die oond tot 200 °C. Meng die suiker, mascarpone en vanielje saam. Plaas die blaardeeg op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Smeer die mascarpone-mengsel oor die deeg tot sowat 2 cm van die rand af. Pak die appelkose snykant na onder bo-op die vulsel. Vou die oop deegrand reg rondom na binne bo-oor die appelkose. Bak 20–25 minute of tot goudbruin. Laat effens afkoel en sit voor saam met roomys.

WENK: As jy nie vars appelkose kan kry nie, kan jy geblikte appelkose gebruik.