Appel-en-varkfrikkadel-kerrie

Foto: Donna Lewis


In Voorskoot 1, my eerste boek, het ek ’n oondgebakte hoenderkerrie opgeneem. Die terugvoer oor die resep was so ongelooflik dat ek besluit het om nog ’n oondkerrieweergawe te skep – dié keer met frikkadelle. Hier’s nou vir jou ’n moet-maak-resep!

Genoeg vir 6-8

Sous
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
45 ml vinkelsaad
10 ml rissievlokkies
45 ml gerookte masala
30 ml borrie
2 lourierblare
2 x 410 g-blikke klappermelk
1 hand vol vars koljander, grofgekap
sout en varsgemaalde swartpeper

Frikkadelle
500 g (sowat 6) varkworsies, vleis uit die derms gehaal
1 ui, baie fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
15 ml fyn koljander
15 ml fyn komyn
1 eier
50 g gedroogde appel, baie fyn gesny

Sous: Maak die olyfolie in ’n groot braaipan warm. Voeg die ui, vinkelsaad en rissievlokkies by. Roerbraai 5 minute of tot die ui begin verbruin – as dit lyk of die speserye begin brand, gooi ’n bietjie water by. Voeg die res van die speserye by en roerbraai nog 5 minute of tot die mengsel lekker geurig is. Gooi die klappermelk by en meng deur. Verlaag die hitte en laat stadig prut tot ’n dik, romerige sous vorm, sowat 20–25 minute. Roer die gekapte koljander deur, en geur goed met sout en peper. Hou eenkant.

Frikkadelle: Verhit die oond tot 180 °C. Meng al die bestanddele en geur goed. Verdeel die mengsel in 16 frikkadelle. Pak die frikkadelle in ’n oondbak en gooi die kerriesous daaroor. Bak 25–30 minute of tot die frik- kadelle gaar is en begin verbruin. Sit met geelrys voor.