Appel-salie-en-vark-terrien

Foto: Donna Lewis


Die eerste keer dat ek hierdie terrien vir my pa gemaak het, was hy glad nie lus vir dié dis met sy vreemd klinkende naam nie. Hy het na my gekyk en gesê: “So, Herman, as ek reg verstaan, is dit nou eintlik polony vir ryk mense?” Nie seker van die ryk mense nie – dis goedkoop en baie maklik om te maak!

Genoeg vir 8-10

1 x 250 g-pakkie strepiespek
800 g varkmaalvleis
60 ml brandewyn
1 ui, fyngekap
15 ml botter
200 ml rooiwyn
250 g Kasselse varktjops, fyngesny
250 g hoenderlewers
1 takkie roosmaryn, fyngekap
6 salieblare, fyngekap
5 ml neutmuskaat
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
100 g pistasieneute
100 g gedroogde appels, grof opgesny

Verhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 35 x 10 cm-broodpan eers met kleefplastiek en dan in die breedte met repies spekvleis uit. Hou oorskietrepies eenkant. Plaas die res van die bestanddele, behalwe die neute en appels, in ’n voedselverwerker. Pols dit teen ’n hoë spoed tot ’n glad- de mengsel. Meng die neute en appelstukkies by. Skep die mengsel in die uitgevoerde broodpan. As daar spek oor is, pak dit bo-op. Bedek die pan met foelie en plaas dit in ’n oondbak wat met warm water gevul is. Plaas in die warm oond en bak 90 minute. Haal die terrien uit en laat dit in die waterbad afkoel. Plaas oornag in die yskas. Sit voor met basiliepesto en agurkies.

WENK: Maak jou eie basiliepesto so: Plaas 5 ml sout, 4 hande vol vars basiliekruid, 4 knoffelhu- isies, 100 g gepelde amandels en 250 ml olyfolie in ’n voedselverwerker. Pols dit teen ’n hoë spoed tot fyn. Skep die mengsel uit die voedselverwerker en meng 100 g gerasperde parmesaankaas by. Hou in ’n lugdigte houer in die yskas.