Foto: Donna Lewis
Aartappelslaai hoef glad nie ure en ure te neem om te maak nie. Ek maak myne met baba-aartappels wat binne minute gaar kook. Dis hoe jy die sous maak wat die smaak van die slaai bepaal.
1 x 500 g-sakkie baba- aartappels
1 rooiui, fyngekap
2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
8 agurkies, in klein blokkies gesny
1 hand vol koljander, fyngekap
1 x 125 ml-bottel geroomde peperwortel (horseradish cream)
250 ml goeiegehalte- mayonnaise
sout en varsgemaalde swartpeper
Plaas die aartappels met skil aan in ’n middelslagpot en vul dit met water. Bring tot kookpunt en laat die aartappels kook tot sag en gaar, sowat 12–15 minute. Dreineer en halveer. Maak die sous terwyl die aartappels kook: Meng die ui, knoffel, agurkies, koljander, peperwortel en mayonnaise in ’n groot mengbak. Voeg die warm aartappelhelftes by. Geur goed met sout en peper. Meng goed, laat afkoel tot kamertemperatuur en sit voor.
WENK: Een van my gunsteling-bestanddele om mee te kook is gerookte spek – dit gee kos so ’n sagte rooksmaak. Braai 250 g fyngekapte spek tot goudbruin en bros, en roer dit vir ekstra smaak by die slaai in.