Aartappel-roquefort-en-okkerneutslaai

Foto: Donna Lewis


As jy hou van sterk kaas, is dié slaai vir jou. As jy nie roquefort kan kry nie, kan jy dit met enige ander bloukaas vervang.

Genoeg vir 6 persone

350 ml kanola-olie
4 knoffelhuisies
2 takkies roosmaryn, fyngekap
500 g baba-aartappels, gehalveer
sap en skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 40 g-pakkie wilderoketslaai
3 pere, gehalveer en ontstronk
350 g roquefort of enige ander bloukaas
1 x 100 g-pakkie okkerneute, grofgekap

Verhit die oond tot 220 °C. Gooi die kanola-olie in ’n groot roosterbak sodat dit minstens 1 cm hoog is. Voeg die knoffelhuisies en roosmaryn daarby. Plaas die bak olie in die warm oond en verhit tot baie warm, sowat 10 minute. Terwyl die olie verhit, bring ’n pot water tot kookpunt. Gooi die aartappels daarin en laat 8 minute kook. Dreineer. Gooi die aartappels versigtig in die warm olie en plaas terug in die oond. Rooster 10–15 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op handdoekpapier en besprinkel met suurlemoensap en -skil. Geur goed met sout en peper. Plaas die roketblare in ’n slaaibak. Pak die bros aartappels en peerhelftes bo-op. Krummel die roquefort oor en strooi die neute oor. Sit voor.

WENK: Pere word gou bruin as jy dit gesny het, so sit die slaai dadelik voor. Verwyder die peerstronk met ’n spanspek-balskepper.