Foto: Donna Lewis
Hierdie sop is die goue staatmaker in my kombuis. As gaste onverwags vir ete opdaag, maak ek dit dadelik. Hy het al baie persoonlikhede gehad, onder meer met oorskietbeesstert of brosgebraaide spek bygemeng. Meestal sit ek dit egter so eenvoudig soos hier voor. Maar glo my, daar is niks gewoons aan hierdie sop nie. Elke happie is propvol smaak en ongelooflik lekker.
Genoeg vir 6
45 ml botter
45 ml olyfolie
12 groot sprietuie (spring onions), in ringe
gesny
4 knoffelhuisies, gekap
4 aartappels, geskil en in klein blokkies gesny
3 takkies tiemie, fyngekap
1 liter hoenderaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper
opgesnyde preie vir garnering
Verwarm die botter en olyfolie in ’n middelslagpot. Voeg die sprietuie en knoffel by. Roerbraai 5–8 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die aartappelblokkies by en braai nog 5 minute. Gooi die tiemie en aftreksel by, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat 20–25 minute prut of tot die aartappels sag en pap is. Verwerk met ’n staafmenger tot ’n gladde puree. Geur goed met sout en peper, garneer met opgesnyde preie en sit dadelik voor.