Foto: Donna Lewis
Wat is ’n Suid-Afrikaanse braai sonder ’n heerlike aartappelgebak? Die beste deel van dié treffer is die bros bokors. Ons het altyd in ons huis gestry oor wie dit kry. Ek het besluit om die aartappels papierdun te sny sodat elke aartappelhappie wat mens eet ekstra bros gebak sal wees – so hoef niemand aan tafel te stry nie. Vir ’n laer GI-opsie kan jy die resep maak met patats wat ewe dun gesny is.
Genoeg vir 6-8
8 groot aartappels, geskil
100 g (110 ml) botter
1 x 250 g-pakkie spek, grofgekap
1 hand vol tiemie, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
250 ml room
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 180 °C. Gebruik ’n mandoliensnyer of baie skerp mes en sny die aartappels in papierdun skyfies van sowat 1 mm dik. (Plaas die aartappels in water soos jy werk om te voorkom dat dit bruin raak.) Pak die skyfies snykant na bo lekker styf teen mekaar in ’n oondbak van sowat 30 x 30 cm.
Verwarm die botter in ’n middelslagbraaipan. Voeg die spek, tiemie en knoffel by, en braai 5–8 minute of tot die spek bros is. Voeg die room by en meng deur. Gooi die mengsel oor die aartappels en beweeg die skyfies met ’n mespunt weg van mekaar sodat die sous tussen die aartappels kan inloop. Geur goed met sout en peper, plaas in die warm oond en bak 30–35 minute of tot die aartappels goudbruin en bros is.