-
-
Alles wat jy oor Volvo se C40 Recharge moet weet
Wêreldwyd word die produksie en verkoop van elektriese voertuie verskerp en talle motorvervaardigers is reeds besig om hul modelreekse met inprop-rygoed te herlaai.
Veral die Sweedse motorreus Volvo is op spoed om sy motors te elektrifiseer met planne vir talle groenvoertuie en teen 2030 beoog hulle om net elektriese voertuie te bou.
Volvo het so pas die C40 Recharge plaaslik bekendgestel. Dit is ’n treffende sportnuts met ’n koepee-agtige ontwerp.
Dié vyf-sitplek nuweling is die heel eerste Volvo wat as suiwer elektries en met omgewingsvriendelike doelwitte ontwerp is.
Hier is ’n paar interessante feite oor die Volvo C40 Recharge:
- Dit is die eerste Volvo waarvan die binneruim volledig leervry is. In die plek van leer is bekleedsel uit omgewingsvriendelike materiale ontwikkel. Dit bestaan uit hernubare wolvesels en ’n tipe suede-tekstiel, wat onder meer van herwonne plastiek gemaak word.
- Die afwerking van verskeie panele, asook die vloermatjies in die voertuig, word ook gedeeltelik van herwonne plastiek gemaak.
- Volvo is ook verbind tot verantwoordelike verkryging van batterye vir hul elektriese
rygoed. Daarom maak die maatskappy gebruik van ’n voorsieningsketting wat seker maak dat die kobalt wat in dié batterye gebruik word op ’n verantwoordbare en wettige manier ontgin is.
- Voornemende kopers kan uit agt bakkleure kies. Dit sluit natuurlik ook Volvo se kenmerkende Fjord-blou in. Dié kleur verteenwoordig glo die diep inhamme aan die Skandinawiese weskus.
- Die lae daklyn en kenmerkende agterkant-ontwerp dra by tot die C40 Recharge se treffende voorkoms met ’n heerlike tikkie astrantheid. Voeg daarby die ruim laairum-kapasiteit van 489 liter en die gerief om die bagasieklap met die swaai van jou voet onder die agterste buffer te laat oopswaai, en jy weet hierdie is ’n wenner. Die bagasieklapfunksie is veral nuttig wanneer jou hande vol inkopiesakke is!
- Ten opsigte van tegnotruuks spog die C40 Recharge met ’n groot raakskerm-multimediastelsel wat deur Android-sagteware aangedryf word. Dié skerm is met Google-apps en -dienste soos Google Assistant toegerus. Jy kan dus net “Hey Google” sê om van die motor se funksies, waaronder klimaatbeheer, te aktiveer.
- Die klimaatbeheer bestaan ook uit ’n gevorderde lugsuiweringstelsel wat nie net stuifmeelvlakke buite die voertuig monitor nie, maar selfs in die kajuit verhoed dat tot 80% skadelike partikels van buite na binne kom.
- Dit sal musiek vir enigiemand se ore wees om te weet dat die C40 Recharge met ’n kragtige 13-luidspreker Harman Kardon-klankstelsel vir perfekte harmonie rondom jou.
- Die C40 Recharge is ten volle elektriese aangedrewe met ’n reikafstand van tot 444 km. En as jy die petrolpedaal (skuus, versnellingspedaal!) plattrap kan dié wakker Volvo 0-100 km/h in net 4,4 sekondes haal!
- Die C40 Recharge se aanbevole prysetiket is R1 285 000.