- -

Ry-indruk: Mercedes se nuwe C-klas

Vir amper drie dekades is Mercedes se C-klas nie net een van die gewildste luukse motors in Suid-Afrika nie, maar ook in die geheel ’n topverkoper hier. Vroeër vanjaar het die jongste generasie van die C-klas hier sy verskyning gemaak en ons kon agter die stuur van die C220d-model inskuif.Of jy nou ’n C-klas kan bekostig of nie, is daar baie redes om dit te respekteer, waarvan die belangrikste is dat dit trots Suid-Afrikaans is en in Mercedes se moderne fabriek in Oos-Londen, vir plaaslike verkope en vir uitvoerdoeleindes, gebou word.

Dit skep dus derduisende werksgeleenthede en wys vir die res van die wêreld dat ons land oor die vermoë beskik om ’n luukse, hoë-gehalte motor te bou, wat net sowel in Duitsland vervaardig kon wees.

Die nuwe C-klas het ’n meer hoekige ontwerp as sy voorganger en dit is met die eerste opslag duidelik dat dit KLAS uitstraal. Met Mercedes se nuwe ontwerpe raak dit wel bietjie moeiliker om die C-klas van sy groter boeties, die E- en S-klasse te onderskei – amper al wat verskil is dat die C-klas kleiner is. En nie dat die C-klas beknop is nie! Allermins… Binne is daar bietjie meer ruimte vir alle passasier as voorheen, terwyl die bagasieruim ook gegroei het.

Die afwerkings binne is deftig, terwyl ʼn indrukwekkende skerm, elegante paneelbord met digitale instrumente ook jou asem wegslaan. Daar is ’n baie lang lys luukse kenmerke en tegno-truuks.

Ten opsigte van die C-klas se veiligheid is daar onder meer ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer, baanhulp met blindekolwaarskuwing en botsingwaarskuwing noodremhulp.

Die geheime bestanddeel van die C220d is Mercedes se jongste turbodiesel van 2,0-liter, wat ’n nuttige 147 kW se krag en 440 Nm wringkrag losdraai. Die enjin loop seepglad saam met die negegang- outomatiese ratkas.

Klankdemping is ongelooflik goed, terwyl die C220d  ook teen hoë snelhede doodstil is en dit voel of jy oor die pad sweef.

Die ander hoogtepunt is die indrukwekkende brandstofverbruik! Teen langpadsnelhede het dit ‘n puik 5 liter gehandhaaf, of laer wanneer jy stadiger ry. As die tenk vol is, wys die ritmeter jy het ’n reikafstand van sowat 1 400 km! Indrukwekkend nè?

Dit is nie meer nuus dat die vraag na sedanmotors ten gunste van sportnutse kwyn nie, wat beteken dat die C-klas se gewildheid sonder twyfel ook taan. Soos die C-klas oor die jare vernuwe het, het sy prysetiket ook opgeskuif, wat beteken die C-klas is nou meer as ooit ‘n statussimbool. En as jy dit kan bekostig, sal jy jouself kan verskoon as jy daaraan dink as ‘n “mini” S-klas! Mercedes verdien vyf sterre vir wat hulle met die nuwe C-klas vermag het!

Pryse vir die C220d begin by R 1,068,550