- Dié sportnus versit berge -

Ry-indruk: Ford Everest

Met die vorige geslag Everest, het Ford reeds gewys dat dié sportnuts daartoe in staat is om die gewilde Toyota Fortuner opdraande te gee. Maar in sy jongste gedaante, is die Everest uiteindelik op die kruin van sy segment, van waar dit neerkyk op sy mededingers.

Moenie verkeerd verstaan nie, want die Fortuner (wat onlangs ’n klein bietjie opgekikker is) is steeds ’n baie goeie en bevoegde ryding, maar dit is net nie meer die beste nie.
Om die waarheid te sê, is die veranderinge aan die nuwe geslag Everest so drasties, dat dit eintlik nou in ’n hoër klas teen modelle soos die Toyota Prado en Land Rover Discovery hoort.

Die sewesitplek Everest met sy mooi hoekige voorkoms is in alle opsigte beter as tevore, en die intreevlak XLT-weergawe wat ek toetsbestuur het, is allermins, uhm “intreevlak”…

Met ’n sterk en aggressiewe ontwerp, wat herinner aan Ford se F150 Amerikaanse bakkies, is dit werklik ’n mooi voertuig en sal dit waarskynlik talle mense se droomkar wees. Veral die blink sierrooster en die LED-ligte wat in ’n C-vorm op die hoeke van die hoofligte sit, trek die aandag.

Binnelangs is die Everest groot, ruim en baie luuks, terwyl die bougehalte puik is met goeie materiale. Daar is baie beenruimte en selfs sonder die platgeslaande sitplekke is die Everest se laairuim nogal groot.

Daar is ’n groot digitale vertoonskerm voor in die middel van die kajuit, waarmee jy talle van die Everest se funksies beheer en anders as talle ander soortgelyke stelsels raak ’n mens dit nogal maklik baas. Gelukkig is alledaagse funksies soos die lugver¬sorger en 4×4- en ritmodusver¬stellings steeds met fisieke knoppe verstelbaar. Daar is ook ’n hele klomp kragpunte in die Everest, wat USB-sokke vir almal se selfone plus ’n 220 V-sok vir ’n skootrekenaar en twee 12 V-sokke agterlangs vir ’n ys-vrieskas.

Verder spog die voertuig met elke liewe gemakstoerusting en ander nutsfunksies, waaraan jy kan dink. Daar is ook ’n lang lys veiligheidshulpmiddels.

Die XLT word deur Ford se uitmuntende 2,0-liter-biturbodiesel (154 kW, 500 Nm) gekoppel aan ’n seepgladde tienspoed-outomatiese ratkas en die die 4×4-weergawe het natuurlik permanente vierwielaandrywingstelsel en ’n ewenaarslot.

Al die Everest se indrukwekkende eienskappe dra tot ’n goed afgeronde pakket by.

Eintlik moet die nuwe Everest nie as ’n plaasvervanger vir sy voorganger gesien word nie, maar as ’n splinternuwe modelreeks in die Ford-stal. Dit is ’n baie indrukwekkende voertuig, en daar is geen twyfel dat Ford nuwe hoogtes Daarmee gaan bereik nie.

Prys – Ford Everest XLT 4×4: R913 400