In Herman se vierde kookboek, Dit proe soos huis, waarvan daar ’n gelyknamige reeks op die gewilde Afrikaanse TV-kanaal VIA was, eer Herman Lensing sy ma Susan, wat skielik in Januarie 2019 in Upington oorlede is. (Herman se pa Harry woon steeds in Upington.)
Herman neem lesers in Dit proe soos huis op ’n kosreis – van sy grootwordjare in Upington waar sy passie vir kos ontvlam het, tot Hartenbos se jaarlikse kampritueel (met hope padkos) en eindig rondom sy eie Kaapse kombuistafel waar hy sy ma ’n resepkinkel of twee kon leer.
Volgens Herman het Susan Lensing almal gevoer wat kom kuier of net aan die deur geklop het. Meer nog, sy het vir hulle padkos vir die siel gebied. Haar leuse was: “My kind, kos is nie kwaad nie. Nooit nie. Kos vergewe en bring mense saam. As ons net aanhou kook, sal ons die wêreld een bord op ’n slag mooier maak.”
Dié pragfotoboek vol onthou¬resepte is ’n kosverhaal wat dít wat is, verbind met dít wat was.
Prys: R365,00 | Bladsye: 192