Warm vrugteslaai met roomys

Herman Lensing


Vrugteslaai kan gou in ’n gemors ontaard. Ek het grootgeword met blikkies gemengde vrugte as ons soetbederf op ’n Sondag. Probeer dié een.

genoeg vir 6 persone

1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
200 g (250 ml) suiker
250 ml water
sap en skil van 1 suurlemoen
400 g aarbeie, gehalveer
200 g bloubessies
200 g vars kersies, ontpit
1 liter vanieljeroomys

Plaas die vanieljesaadjies en -peul in ’n middelslagpot. Voeg die suiker, water en suurlemoensap en -skil by. Meng goed en bring tot kookpunt. Laat 5 minute prut. Plaas die vrugte in ’n middelslagbak. Gooi die warm stroop daaroor. Sit voor met die roomys.

WENK: Jy kan die vrugte ook koel voorsit, en vir meer tekstuur en smaak so 100 g gekapte pistasieneute byvoeg.